BiltongBredie

Home of the BlackoutRugby BiltongBredie Cup

BiltongBredie - Home of the BlackoutRugby BiltongBredie Cup

BAABAAS WEN ‘N RILLER

In ‘n spreekwoordelike naelbyter, het die WP Barbarians daarin geslaag om van agter af te kom en die BB Cup vir die eerste keer in te palm, deur die TK XV met 26-21 te verslaan.

Dit was die WP se 4de poging om hierdie gesogte trofee te wen, en alhoewel hulle voor die wedstryd as volslae gunstelinge voorgehou is, was dit die TK XV wat hul beperkte geleenthede aangegryp het om vir die grootste gedeelte van die wedstryd voor te loop.

Reeds vroeg in die wedstryd het Zegrean met ‘n strafskop geslaag, en toe Millard in die 18de minuut oorgaan vir ‘n omstrede drie, was die WP skielik met 10 punte agter. Hulle het egter vinnig terug geslaan met ‘n drie deur Roke en ‘n strafskop deur Bogg om die agterstand na 2 punte te laat krimp.

Alhoewel die tuisspan deurgaans die grootste gedeelte van bal- en grondbesit geniet het kon hulle geen bresse slaan in die TK verdediging voor halftyd nie.

Toe Fily 5 min in die tweede helfde druk, kon jy duidelik merk hoe die tuis skare ‘n sug van verligting slaak. Dit is egter net hier waar die TK’s gewys het, hulle het nie gekom om te verloor nie. Eers het Bistra gaan druk, waarna Zegrean twee vinnige strafskoppe voor die pale oorgeklits het, nadat die WP se dissipline hulle in die steek gelaat het.

Met ‘n 8 punt agterstand was daar hier en daar ‘n WP ondersteuner wat sy kussing en hoed opgetel het om huiswaarts te keer. Visioene van nog ‘n nederlaag in nog ‘n finaal, het heel waarskynlik begin lyk.

In die 69ste minuut het Bogg ‘n stafskop oorgeskop om die WP moed te gee, maar dit was die dartel lopie van Pisont uit sy eie kwartgebied wat die TK’s se harte gebreek het. Train het afgerond en met 8 min oor, het die WP beheer oor die wedstryd geneem. Toe Bogg in die laaste minuut ‘n strafskop oorskop het die vreugde vure agter Nuweland begin brand.

 

Alle eer vir die manne van Georgië wat vanaand bewys het dat verlede week se oorwinning oor die Stormdogs gin vloekskoot was nie. In wat as ‘n goeie vertoning teen ‘n baie sterk WP span gelyk het, was dit op die ou einde hul hantering wat hulle in die steek gelaat het. Hulle het die afbreekpunte gedomineer, losgemale gewen en het 2 vaskoppe gehak. Maar met 17 hanteerfoute en aanslane teenoor 8, is hul momentum telkemale gebreek.

 

Quo Vadis WP? Hierdie mag net ‘n droomseisoen vir hulle wees. In die SASS lyk hulle amper verseker van die eerste plek. Indien hulle boonop hul BoR liga ook wen, kan hulle ‘n ongekende treble inpalm. Met heelwat ouer manne wat einde van die seisoen klaarmaak, sal hierdie as een van die groot spanne onthou word.

 

In die Bronsfinaal het die Stormdogs vir Luke’s Skywalkers met 44-14 verneder. In die 1ste Liga finaal het Table Bay Tsunamis uiteindelik met 45-11 weg teen die Red Bull Crusaders gewen, nadat hulle halftyd slegs 10-8 voor was.